Katy Perry se liedjie nie skadelik vir kinders
2012-06-12 15:09
Johannesburg – Die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) het geweier om 'n appèl teen 'n vroeëre bevinding, dat 'n liedjie van Katy Perry nie skadelik is vir kinders nie, te handhaaf.
Ashby Kurian, 'n pastoor, het by die kommissie gekla dat East Coast Radio 'n liedjie gespeel het, wat hy as 'n pa van twee dogters ongeskik en aanvallend gevind het.
Perry se liedjie "Last Friday Night" bevat naakheid, onvapasde seksuele gedrag en oortree die wet, het hy gesê.
"'n Effektiewe manier om kinders te leer om 'n boodskap te onthou is deur liedjies," het hy in sy aanvanklike klag aan die kommissie gesê.
East Coast Radio het op hul beurt gesê die liedjie is 'n treffer regoor die wêreld.
"Ons kan nie alleen verantwoordelik gehou word vir die begrip van die liedjie nie omdat dit op ander radiostasies, televisies en ook YouTube geluister word," het Nick Grubb, hoof operasionele beampte van Kagiso Broadcasting, namens East Coast Radio, gesê.
"Ek dink 'n redelike persoon sal na die liedjie luister en nie aanneem dat dit wat in die liedjie oorgedra word is reg en moet uitgeoefen word nie."
Professor Kobus van Rooyen van die kommissie het bevind dat daar geen aanvallende taal in die lirieke van die liedjie gebruik word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA