Katy Perry kry Die Antwoord
2012-02-05 09:55
Johannesburg – Katy Perry het Die Antwoord gekry!
Die Amerikaanse sangeres van treffers soos "I Kissed a Girl" en die onlangse "The One That Got Away", luister na die musiek van dié Suid-Afrikaanse groep.
Sy het Woensdag getweet haar dag se iTunes-aankope was uiteenlopend: Leonard Cohen, Lana Del Rey, Die Antwoord, M.I.A. en Jessie James.
Die Antwoord se nuwe album, Ten$ion, is nou op iTunes beskikbaar.
Sedert die video van die eerste kortspeler, "I Fink U Freeky", bekend gestel is, het dit 40 000 trefslae op die internet gehad en dié syfer styg daagliks.
Die swart-en-wit video wys die groeplede, Yo-Landi Vi$$er en Ninja, in en om die huis. In een toneel haal Yo-Landi ’n kakkerlak uit ’n gebakte eier.
Ninja sing nie net in die video nie, hy speel ook regisseur saam met die fotograaf Roger Ballen.
Perry verskyn binnekort in driedimensionele beelde.
Paramount Pictures het groot sukses behaal met Justin Biebier se Never Say Never-konsert in 3D. Nou is dit Perry se beurt.
Dit gaan nie nét ’n konsert wees nie, maar ook materiaal bevat van Perry se grootwordjare.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport