‘Karaoke’ sonder die erns van ‘Idols’
2010-08-06 10:16
Beeld
Die laaste paar weke kon kykNET-kykers oudisies vir dié kanaal se nuwe musiekspeletjiesprogram sien.
Om dié oudisies uit te saai was nooit eintlik deel van die plan nie, het Haddad Viljoen, kykNET se publisiteitsbestuurder, aan Beeld vertel met die reeks se bekendstelling. “Maar dit was net so snaaks en soveel pret dat ons besluit het om dit in ’n paar episodes te verwerk.”
Nou begin die regte speletjiesprogram Saterdagaand (21:00).
“Mense moet verstaan dit is nié ’n ernstige musiekprogram nie. Dis nie ’n Idols nie,” het Jannie Moolman, die program se aanbieder, gesê.
Moolman, wat opgelei is as operasanger, het vertel hy het nog nooit soveel pret gehad as met die opnames van Kom ons karaoke nie.
Die konsep van die speletjie is eenvoudig. Uit die oudisies is verskeie spanne van drie deelnemers elk saamgestel en elke week sal drie van hierdie spanne in vyf prettige speletjies teen mekaar meeding om uiteindelik die titel Karaoke Kampioene te verower.
“Omdat ons oudisies gedoen het, kan al die deelnemers darem min of meer sing,” het Moolman vertel. “Maar omdat dit nie bloot ’n sangkompetisie is nie, is dit nie noodwendig die beste sangers wat wen nie.”
Van die speletjies wat die deelnemers speel, is onder meer karaoke-aflos, waar die drie deelnemers ’n karaoke-liedjie moet sing en die mikrofoon tussen mekaar moet aangee.
Hulle word beoordeel en kry punte op grond van hoe goed hulle gesing het en die oorgang van spanlid tot spanlid hanteer het.
Ander prettighede is waar die deelnemers die titels van liedjies wat in spesifieke temas verdeel is, moet raai. Moolman, bygestaan deur die pianis Janine Neethling, sing dié liedjies.
En wat sou ’n karaoke-kompetisie wees sonder karaoke? Verwag dus dat daar wel ge-karaoke sal word – al is daar hier en daar ’n vals noot!
- Beeld