Kapenaar SA se topkeuse as komediant
2011-01-26 09:24
Johannesburg - Die Comic’s Choice-pryse is Saterdagaand die eerste keer in die Teatro by Montecasino in Fourways oorhandig om Suid-Afrika se top-komediante te vereer.
Een van die hoogtepunte van die aand was toe die legendariese Al Debbo, wat vanjaar 87 word, op die verhoog verskyn het om ’n spesiale prys te ontvang. Die gehoor het hom staande toegejuig.
Die publiek kon kaartjies vir dié geleentheid koop en die teater was stampvol.
Die aand het die vorm van ’n verskeidenheidskonsert aangeneem met verskeie komediante wat ’n kort vertoning gelewer het.
Die ses pryswenners het tussendeur hul pryse ontvang.
Mel Miller het die prys vir sy lewensbydrae ontvang en die Kaapse komdiant Riaad Moosa die Comics Choice-prys.
Rob van Vuuren het ’n prys ontvang vir baanbrekerswerk en Deep Fried Man was die wenner in die nuweling-afdeling.
Bevan Cullinan was die wenner in die gehoorkeuse-afdeling, waar die publiek per SMS kon stem.
John Vlismas, een van die organiseerders, het gesê dié pryse sal “100%” voortaan jaarliks toegeken word. “Komedie was nog altyd gewild in Suid-Afrika, maar dit beleef beslis ’n bloeifase. Daar is ’n groter groep mense met verskillende agtergronde wat komedie waardeer. In die verlede was dit dikwels meer van ’n nagedagte.”
Elke pryswenner het ’n Waldo-beeldjie ontvang wat deur CW Design ontwerp is.
- Die Burger