Kanye wil ja-woord vra sodra Kim skei
2012-07-24 15:24
Los Angeles – Die kletsrymer Kanye West het 'n juwelier gevra om 'n verloofring vir Kim Kardashian te ontwerp met diamante en robyne van sy ontslape ma, Donda, se persoonlike juweelversameling, het RadarOnline.com berig.
West beplan om die ja-woord aan die realiteitstelevisiester te vra sodra haar egskeiding van Kris Humphries gefinaliseer is.
"Kanye het van Donda se duurste items geneem, wat diamantoorbelle en 'n robynring inkluis," het 'n bron na aan West aan RadarOnline.com gesê.
"Donda was so 'n belangrike persoon in Kanye se lewe. So hy het al haar juwele gehou.
"En nou het hy 'n vrou gevind vir wie hy respekteer en baie lief is net soos vir sy ma, en nou wil hy haar juweelversameling met Kim deel."
West se vriende het egter aan hom gesê dit is verkeerd om Donda se juwele weg te gee. Hulle het hom ook gewaarsku indien sy verhouding met Kardashian nie uitwerk nie gaan sy die ring hou.
West (35) wil glo ook hê hy en Kardashian (31) moet in Chicago trou, waar hy grootgeword het, of in Oklahoma, waar sy ma begrawe is.
– Volg Nuus24 op Twitter.