Kanye West: 'Ek voel soms soos Hitler'
2011-08-08 13:13
Eastnor Castle Deer Park, Engeland – Kanye West voel soms soos Adolf Hitler.
Die 34-jarige rap-kunstenaar, wat bekend is vir sy omstrede uitlatings, was die hoofoptrede by die Big Chill-musiekfees Saterdagaand in Herefordshire, Engeland.
Hy het in die middel van sy vertoning begin kla dat hy misverstaan word en dat niemand hom waardeer nie.
“Ek loop deur die hotel en ek loop by die straat af en mense kyk na my asof ek mal is, asof ek Hitler is,” het hy gesê.
“Eendag sal die lig deurskyn en eendag sal mense alles wat ek gedoen het verstaan.”
‘n Paar mense uit die gehoor het hom gevolglik begin uitjou.
Die kunstenaar het ook sy musiekvideo vir sy liedjie Monster, waarin daar kannibalisme voorkom en waar meisies aan hul nekke hang, verdedig.
“Wie het die video gesien voordat dit verban is, voordat dit afgehaal is en voor vrouegroepe begin sê het dat ‘n persoon wat die belangrikste vrou in sy lewe verloor het nou op ‘n manier teen vroue is?” het West gesê in verwysing na die dood van sy ma, Donda West, in 2007.
West, wat sowat 30 minute laat met die vertoning begin het, het om verskoning vir die gehoor gevra en gesê hy moes seker maak dat sy optrede uitstekend is.
By die MTV musiekvideo-toekennings in 2009 het hy die mikrofoon by die country-sangeres Taylor Swift gegryp toe sy die toekenning vir beste vroulike video gewen het en gesê dat Beyonce dit eerder moes wen.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP