Kaartjie vir Stuur Groete aan Mannetjies Roux verkoop soos soetkoek
2011-04-19 18:00
Kaapstad - Kaartjies vir die musiekspel, Stuur Groete aan Mannetjies Roux, is besig om soos soetkoek te verkoop, het Chrizanda van Wyk van Mango-OMC gesê.
Stuur Groete speel later vanjaar in die nuwe Atterbury Teater in Lynnwood, Pretoria, en gaan daarna op toer na Kaapstad, Johannesburg en Bloemfontein.
'n Totaal van net meer as 50 optredes word beplan.
Volgens Johan Badenhorst, Vervaardiger van die musiekspel, is die kaartjieverkope ongekend in Afrikaanse teater. Dit vergelyk goed met buitelandse produksies waarvan die loket reeds maande vooraf open, en waar die publiek die kans kry om lank vooruit hulle sitplekke te bespreek.
In die geval van Stuur Groete aan Mannetjies Roux is daar nog skaars begin om ernstige bemarking te doen.
Laurika Rauch en Mannetjies Roux se optrede tydens die Bulls en Stormers se Super 15 wedstryd op Loftus Versveld het die publiek laat notisie neem van die musiekspel, en hulle het na die loket begin stroom.
- Volg Nuus24 op Twitter.