Kaapse realiteitsreeks gaan ore laat tuit
2010-01-22 08:49
Kaapstad – ’n Onthullende realiteitsprogram waarin vier Kaapse mans dinge sê en doen wat die ore behoorlik gaan laat tuit en die oë beslis gaan laat rek, begin vanaand om 21:30 op SABC3.
MAN volg oor die loop van 13 episodes vier dertigjarige mans in die Moederstad wat liefde en seks soek en oor vroue wonder. Dit is in 2008 in Kaapstad verfilm.
Die vier enkellopende mans is die model Henri Slier, die joernalis Maurice Levin, die kelner Trevor Gow en die rekenaaringenieur Kaizer Tsosane.
Die kameras volg hulle terwyl hulle by Kaapse kuierplekke oor onder meer vroue, seks en manwees gesels, avontuurlustige dinge doen en by allerlei Kaapse nagklubs uithang.
Kaapstad as wêreldstad is die vyfde “karakter”.
Die vier draai geen doekies om in hul gesprekke nie en as gevolg van die taalgebruik en sommige gewaagde naaktonele het SABC3 die program in ’n laataand-kykgleuf geplaas.
“In elke episode word ’n ander aspek van die manlike persona verken,’’ het Michael Raimondo, die vervaardiger, gesê.
Levin het aan Die Burger gesê ware liefde is ’n moeilike ding om te vind. Volgens Gow “besef baie vroue steeds nie dat mans eintlik eenvoudige wesens is nie – hulle het soms leiding nodig in die kuns van verhoudings’’. Slier het gesê “onder die manlike ego soek almal ’n maat’’ en Tsosane meen mans het ook gevoelens, nes vroue. “Ons huil nes hulle, ons soek aandag nes hulle – ons wys dit net nie so goed soos hulle nie.’’
–Die Burger