Kaalbas-Harry op voorblad van Britse poniekoerant
2012-08-24 09:35
Londen – Die poniekoerant The Sun is die eerste Britse koerant wat naakfoto's van prins Harry by 'n partytjie in Las Vegas gepubliseer het, ten spyte van 'n versoek deur die St. James-paleis om dit nie te doen nie.
Koerante in die Verenigde Koninkryk het nie die foto's van Harry, waar hy naak met 'n onbekende vrou in Las Vegas poseer, gepubliseer nie nadat die koninklike familie die Britse Press Complaints Commission gekontak het om te versoek dat die foto's nie gepubliseer word nie.
Die koninklike familie het aangevoer dat dit die prins se privaatheid skend.
Media-organisasies buite die Verenigde Koninkryk egter het die foto's gepubliseer nadat dit vir die eerste keer op die Amerikaanse skinderwebwerf TMZ verskyn het.
The Sun het gesê hulle het die foto's gepubliseer sodat die miljoene mense, wat hul nuus in koerante kry of nie internettoegang het nie, ook aan die nasionale gesprek kan deelneem.
David Dinsmore, besturende redakteur, het in 'n video op die koerant se webwerf gesê die besluit is nie ligtelik geneem nie.
"The Sun is 'n verantwoordelike koerant en werk baie nou saam met die koninklike familie en ons neem hul wense in ag.
"Ons is ook groot aanhangers van prins Harry. Hy doen baie werk vir sy land en die weermag. Vir ons gaan dit oor mediavryheid.
"Dit gaan oor 'n situasie waar 'n foto deur honderde miljoene mense regoor die wêreld op die internet gesien kan word, maar nie in die land se gunstelingkoerant nie."
– Sky News.
– Volg Nuus24 op Twitter.