KKNK 2011: Kyk uit hiervoor
2011-01-24 10:55
Kaapstad - Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees is om die draai!
Dié spoggeleentheid wat Afrikaners van oor die land heen in die Karoo laat saamtrek, word vanjaar vir die 17de keer gehou.
’n Groot hoogtepunt is natuurlik die Afri-Spaans-vertoning wat deur SARIE moontlik gemaak is. Marta Gómez sing die Afrikaanse treffers in smeulende Latino-ritmes. Sandra Prinsloo is die regisseur en ander bekendes wat in Afri-Spaans te sien is, is Steve Hofmeyr en Anna Davel.
Ander vertonings waarna jy kan uitsien, is die verhoogverwerking van SARIE-rubriekskrywer Marita van der Vyver se boek Dis koue kos, skat. Elsabé Zietsman vertolk die rol van Clara Brand, die vrou wie se man haar en haar kinders los vir haar vriendin.
Sandra Prinsloo is te sien in Janneman, ’n toneelstuk wat handel oor drie generasies vroue van dieselfde gesin.
Twee legendariese aktrises, Antoinette Kellerman en Wilna Snyman, speel saam met Nicole Holm in Klaasvakie. Dit handel oor die bitsige kompetisie tussen twee vroue in ’n ouetehuis.
As jy Betésda – wat verlede jaar die Kanna gewen het vir die beste KKNK-aanbieding – gesien het, moet jy Lot gaan kyk. Dit word beskou as die tweede deel in ’n trilogie. Neels van Jaarsveld en Stian Bam is onder andere daarin te sien.
- Vir meer inligting besoek Sarie.
- Volg Nuus24 op Twitter.