Justin Bieber doen beroep op boelies
2011-03-15 15:18
Los Angeles - Justin Bieber is so geraak deur ‘n video van ‘n tienermeisie wat haarself sny dat hy ‘n beroep op boelies gedoen het om te dink voordat hulle ander mense met hul woorde seermaak.
Die meisie se naam is Jade en sy het hulp nodig.
'n Video wat op YouTube sirkuleer van 'n Amerikaanse hoërskoolleerder, net bekend as Jade, het Bieber genoop om 'n beroep op tieners te doen.
In die video hou Jade indekskaarte op terwyl die liedjie, "Look What You've Done" deur Jet in die agtergrond speel. Die kaarte verduidelik dat dié meisie nie so gelukkig is soos wat sy lyk nie.
Haar klasmaats noem haar aaklige name, wat haar al so seergemaak het dat sy haarself begin sny het. Sy wys selfs vir die kamera haar beserings.
Just So You Know berig Bieber het die video gesien en gevoel dit is belangrik om al sy aanhangers daarvan bewus te maak. Hy het op Twitter die video gedeel en geskryf: "Dink voordat jy iets sê wat iemand anders kan seermaak. Dit lyk dalk asof hulle okei is, maar hulle is nie. Woorde het meer mag as wat jy dink."
JIP het vroeër berig dat al meer tieners videos op YouTube laai wat wys hoe hulle hulself sny en seermaak.
- Vir meer inligting besoek Jip.
- Volg Nuus24 op Twitter.