Sanger 'skaam' oor inhegtenisname
2010-08-16 10:15
Die Burger
“Ek is uiters skaam oor die swak voorbeeld wat ek gestel het. Iemand kon dood gewees het.”
Dít was die reaksie van Ard Matthews, hoofsanger van die rockgroep Just Jinjer wat die naweek vir dronkbestuur in die Moederstad in hegtenis geneem is nadat hy in ’n motorongeluk was.
Matthews verskyn Maandag in die Kaapstadse landdroshof nadat dit aan die lig gekom het sy bloedalkoholvlak het Saterdagoggend tydens die ongeluk die wetlike perk oorskry.
Hy is op polisieborgtog van R500 vrygelaat nadat hy ’n paar uur lank by die Kaapstad Sentraal-polisiekantoor aangehou is.
“Verstaan asseblief dat ek uiters verleë en jammer is. Ek is glad nie trots daarop nie,” het Matthews op sy Facebookblad geskryf.
“Soos ’n dwaas het ek besluit om dit te waag, en ek is betrap,” het hy oomblikke nadat hy vrygelaat is, geskryf.
Hy swyg sedertdien oor die gebeure.
Die ongeluk het Saterdagoggend omstreeks 04:50 aan die Buitengracht in die middestad gebeur toe Matthews met sy bakkie in ’n voorwerp langs die straat vasgery het, het kapt. Ezra October, polisiewoordvoerder, gesê.
Matthews is daarna na die toetsstasie in Vanguard Estate geneem, waar sy bloedalkoholvlak getoets is.
October het gesê die sanger is nie beseer nie.
Liny Kruger, die sanger se Suid-Afrikaanse agent, het Sondag gesê Matthews gaan geen verdere kommentaar lewer nie.
Tientalle aanhangers het sy gedrag veroordeel, maar ander was simpatiek. Matthews het mense aangeraai om altyd ’n taxi te haal.
Matthews is Vrydagaand by die Kaapstadse Modeweek in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) opgemerk waar hy glo ’n paar van die gratis drankies weggeslaan het.