Julie Andrews terug op Londen-verhoog
2009-11-25 16:50
Londen – Julie Andrews is na 30 jaar weer terug in op die Britse verhoog.
Die vermaakmaatskappy AEG Europe het Woensdag gesê die ster van musiekblyspele soos Mary Poppins en The sound of music sal op 8 Mei in Londen se 02 Arena optree.
Andrews het in 1997 knoppies in haar keel laat verwyder. Alhoewel die groeisels nie kankeragtig was nie, kon sy aanvanklik ná die operasie glad nie sing nie.
Sy het sedertdien in die rolprent The Princess Diaries gespeel en was die stem van koningin Lillian in die Shrek rolprentreeks.
Andrews het in ‘n verklaring gesê “om weer in my tuisland op die Londense verhoog op te tree gaan ‘n wonderlike oomblik wees – dit is waar dit alles vir my begin het.”
Kaartjieverkope begin Donderdag.
- Sapa-AP