Joplin, Amy, Kurt nie deel van klub 27
2011-12-21 10:03
Johannesburg – Die klub 27-verskynsel is ’n mite.
Musikante het nie ’n groter kans om op dié ouderdom dood te gaan nie. So sê ’n Australiese navorser wat ná die sangeres Amy Winehouse se dood besluit het om dié verskynsel met statistiese metodes te ondersoek.
Jim Morrison, Jimi Hendrix, Janis Joplin en Kurt Cobain is nog sangers wat in dié ouderdom dood is.
Adrian Barnett, ’n statistikus aan die Queensland University of Technology, het sterftes onder bekende Britse musikante teen sterftes in die algemene Britse bevolking vergelyk.
Die maatstaf vir roem was dat hulle tussen 1956 en 2007 ’n nommer een-album in Brittanje moes gehad het.
Die navorsers het vasgestel 71 (7%) van ’n groep van 1 046 musikante is dood.
Hulle kon geen verband met die ouderdom 27 vind nie, maar het wel vasgestel dat musikante ’n twee tot drie keer groter kans as die algemene Britse bevolking het om in hul 20’s of 30’s te sterf.
Daar was ook in die 1970’s en 1980’s ’n groep sterftes onder musikante tussen 20 en 40, maar nie in die laat 1980’s nie.
Die navorsers vermoed dit het iets te doen met die beter behandelingsmetodes wat onder meer vir heroïenverslawing gevind is en dat die musiektoneel in die 1980’s van harde rockmusiek na popmusiek verander het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld