Joost sê sy liefste Amor het sy hart gebreek
2011-12-08 07:00
Kaapstad – “Ek is nou besig om video’s te maak wat ek vir my kinders gaan nalaat. Hulle kan daarna kyk wanneer hulle agttien is om hulle aan hul pa te herinner,” het ’n aangedane Joost van der Westhuizen gisteraand op die TV-program Kwêla op kykNET gesê.
“In daardie video’s sê ek die goed wat ek hulle graag sou wou geleer het as ek die tyd gehad het,” het die oud-Springbok-kaptein gesê. “Die lewe gaan (nou) vir my net oor kwaliteit.”
Terminale motorneuronsiekte (MNS) is verlede jaar by Van der Westhuizen gediagnoseer.
Hy praat reeds baie moeilik, sleep sy tong en spreek nie al sy woorde volledig uit nie.
Hy het vrede gemaak daarmee dat sy lewensverwagting tussen ’n jaar en vyf jaar is.
“Ek speel nou maar nog in die eerste helfte van my hardste wedstryd nóg. Die wedstryd gaan later nog baie harder word, ek weet. Maar ek gaan hom aanvat.”
Hy het gesê ’n hartseerding in sy lewe is dat hy nie die ondersteuning het van Amor Vittone, sy vervreemde vrou en sangeres, nie.
“Ek sou so graag nou haar steun wou gehad het omdat sy die mens is vir wie ek die liefste was. Sy het my hart gebreek.
“Ek sal graag my kinders meer wil sien. As Amor byvoorbeeld naweke wanneer die kinders by haar is moet weggaan, los sy die kinders by haar ouers. Ek sal hulle graag by my wil hê. “Ek wil nie baklei nie, maar dis ’n ding wat ons regsmense (met die oog op ’n egskeiding) nog uitsorteer.”
Hy het intussen ook die J9-stigting (J vir Joost en 9 vir die nommer wat hy as Springbok op sy rug gedra het) begin. Die stigting se doel is om ander MNS-lyers te help as hulle geen hulp het nie.
“Tans is ek, ondanks my siekte en die feit dat van my spiere nou reeds begin ingee het, op ’n baie goeie plek in my lewe. Ek lewe een dag op ’n keer. En ek hou aan glimlag.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger