'Joost is gelukkiger as ek'
2009-07-28 09:33
Philip de Bruin
Die oud-Springbokkaptein Joost van der Westhuizen is gelukkiger as hy “met eggenote en vergifnis”, sê Steve Hofmeyr.
Dié sanger-akteur kap in sy jongste tydskrifonderhoud na sy vervreemde vrou, die aktrise Natasha Sutherland, as ’n ma “wat die materiële vryheid omhels en inruil vir die afwesigheid van haar seuns se vader”.
Tog sê hy dat hy nog “elke uur van elke dag” jammer is oor die verbrokkeling van sy huwelik en erken dat hy, net soos sy in die openbaar gesê het, nie “oornag ’n knoppie net kan afskakel” en nie meer lief kan wees vir haar nie.
“Maar ná twee jaar se gesmeek (nadat sy verhoudings met onder andere me. Janine van der Vyver op die lappe gekom het) was dit (hul egskeiding) haar keuse. Die media het grootliks bygedra.”
Hofmeyr maak dié uitlatings in ’n onderhoud met Martie Swanepoel, artikelredakteur van die tydskrif Finesse. Die volledige onderhoud is op die tydskrif se webblad, www. finessemag.co.za, beskikbaar.
In die onderhoud spreek Hofmeyr kommer oor sy gesondheid uit. “Ek is nie gesond nie,” sê hy. Volgens die artikel is hy “nie homself” nie. “Hy voel nie goed nie. Netnou gaan hy dokter toe . . . en dan spring hy weer in sy toerbus.”
Sy mediabeampte, me. Amanda Singelton, het egter gister gesê Hofmeyr is “perdfris en gesond”.
Oor Sutherland het Hofmeyr aan Finesse gesê: “Sy is altyd soos ’n koningin behandel en sit vandag met ’n superhero (klaarblyklik ’n verwysing na haar nuwe vriend, wat sy Flash Gordon noem) en ’n vyfmiljoenrandse huis. Wat’s die probleem?”
Hy beskryf Sutherland se boek Bittersoet as “effe Cosmopolitan”.
“(Dit is) ’n neurotiese selfregverdiging van ’n magiese fout. Die fout van ’n persoon wat haarself verkoop as ’n geestelike mens – in die afwesigheid van vergifnis.”
Hy probeer hul twee seuns, Benjamin en Sebastian, “so twee keer per week sien”. “Dis nie altyd moontlik nie.”
Hy is ook baie bekommerd oor die “hartseer wat ook my ma, Carien, raak”. “Sy hanteer dit nie goed nie. Uiteindelik is sy die enigste een wat my onvoorwaardelik liefhet hier rond.”
-Beeld