Joost en Amor in erge rusie
2009-09-25 05:21
Philip de Bruin
Pretoria - Joost van der Westhuizen en sy vrou, die sangeres Amor Vittone, het so erg baklei dat hy gevra is om sy vuurwapen tuis te los voordat hy woedend hul huis verlaat het.
“Wat my betref, was dit ’n huishoudelike rusie wat buite verhouding opgeblaas word,” het Van der Westhuizen gister gesê. Hy dra permanent ’n vuurwapen by hom.
Beeld verneem deur ’n bron na aan die egpaar die rusie het ontstaan nadat Van der Westhuizen laat by die egpaar se huis in die spogwoonbuurt Dainfern Valley in Johannesburg opgedaag het.
Hy het blykbaar eers ’n paar drankies gaan drink voordat hy huis toe is.
Tydens die rusie was Vittone se ouers ook in die huis. Die rusie was in ’n stadium so erg en Van der Westhuizen so kwaad dat Vittone se pa, mnr. Dario Vittone, hom gevra het om eerder sy vuurwapen te gaan bêre.
Van der Westhuizen het die huis verlaat en na bewering eers vroeg die volgende oggend teruggekeer.
Van der Westhuizen het gister bevestig dat hy en Vittone Vrydagaand in ’n voorval betrokke was. Hy het ontken dat die polisie op die toneel was, dat die polisie op sy vuurwapen beslag gelê het of dat die polisie tans ’n saak van gesinsgeweld teen hom ondersoek.
Sy skoonpa het gesê tydens die rusie “het niemand ons met ’n vuurwapen gedreig nie”.
“Joost dra ’n vuurwapen omdat hy voorheen in ’n kaping betrokke was. Vrydagaand het ek Joost gevra om, weens die woedebui waarin hy was, sy vuurwapen te gaan bêre en dit nie saam met hom te vat nie toe hy aangedui het dat hy uitgaan,” het mnr. Vittone gesê.
Hy het gesê hy en sy vrou bring die naweek saam met die egpaar en hul kinders deur.
Bridget van Oerle, Van der Westhuizen se woordvoerder, het ook gister Vrydagaand se “onaangenaamheid” bevestig.
“Joost, Amor en haar ouers het intussen vrede gemaak.”
Sowel Van der Westhuizen as Van Oerle het gister gerugte dat hulle gaan skei, ten sterkste ontken.
“Daar is geen skeidokumente opgestel of by enige hof ingedien nie,” het Van Oerle gesê.
Van der Westhuizen het gesê: “Ons is net ’n gesin wat normale lewens probeer lei. Kan ons asseblief net alleen gelaat word?”
Hy het ontken dat hulle van plan is om hul huis te verkoop.
Mike Bolhuis, wat namens Van der Westhuizen ondersoek ingestel het na die seksvideo van vroeër vanjaar, het gesê gister hy is ook oor Vrydagaand se voorval ingelig.
“Ek het Joost dadelik gebel, maar aan my het hy enige rusie ontken. Ek weet nie hoekom nie.”
Volgens Bolhuis is hy “baie bekommerd oor Joost en Amor” omdat al die publisiteit van die laaste maande “geweldige druk op die egpaar geplaas het. Joost se gemoedstoestand is nie goed nie.”
Sonja Carstens berig Bolhuis het by navraag bevestig dat hy meer as R700 000 aan Van der Westhuizen geleen het.
Dit is nog nie terugbetaal nie.
“Ek het geld vir Joost geleen, maar wil nie daaroor uitwei nie want ek beskou dit as ’n private aangeleentheid,” het Bolhuis gesê.
Clinton van den Berg, woordvoerder van SuperSport op M-Net, het by navraag gesê geen besluit oor Van der Westhuizen se moontlike terugkeer as uitsaaier en kommentator is nog geneem nie.
- Beeld