Jon Bon Jovi se dogter nié vervolg oor dwelms
2012-11-16 10:53
Los Angeles – Jon Bon Jovi, van die Amerikaanse rockgroep Bon Jovi, se dogter sal nie vervolg word nadat sy 'n oordosis heroïen geneem het nie, berig die skinderwebwerf TMZ.
Die distriksprokureur het al die aanklagte teen die 19-jarige Stephanie Bongiovi en die 21-jarige manlike student, wat saam met haar was, teruggetrek.
Bongiovi is Woensdagaand in 'n kamer by 'n studentewoning van die Hamilton Kollege in New York gevind nadat 'n ambulans ontbied is, het amptenare gesê.
Peter Cania, 'n ondersoekbeampte, het gesê 'n klein hoeveelheid heroïen, dagga en toerusting waarmee dwelms ingespuit word, is in die kamer gevind.
Die distriksprokureur het gesê die aanklagte is laat vaar ingevolge 'n wet wat verhoed dat mense wat 'n oordosis dwelms geneem het, vervolg word.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter