Jolie ontken bewerings dat sy storie steel
2011-12-08 11:43
Los Angeles – Die aktrise Angelina Jolie sê sy het "nog nooit die boek gesien" waarop haar film In The Land Of Blood And Honey na bewering gebaseer is nie.
Die Oscar-bekroonde aktrise, wat haar debuut as regisseur maak met dié Serwiese liefdesverhaal, word deur James Braddock, 'n joernalis van Kroasië, gedagvaar.
Braddock beweer Jolie se rolprent is op sy boek The Subject Work, wat in 2007 gepubliseer is, gebaseer.
Jolie ontken egter dié bewerings en sê amper elke rolprent bevat elemente wat met bestaande boeke ooreenkom.
"Daar is baie boeke en dokumentêre rolprente wat ek gebruik het. Dit is 'n kombinasie van baie mense se stories. Maar daardie spesifieke boek het ek nog nie gesien nie."
Luidens hofdokumente beweer Braddock hy en die regisseur Edin Sarkic, wat nou saam met Jolie aan haar nuwe film werk, het mekaar verskeie kere in 2008 ontmoet om oor die moontlikheid te gesels om 'n film van sy boek te maak.
Volgens Braddock het hulle oor die inhoud van sy boek gesels, wat ooreenkomste met die film In the Land of Blood and Honey toon en ook die liefdesverhaal tussen 'n vroulike gevangene en 'n soldaat van Serwië uitbeeld.
'n Regter moet nou bepaal of die ooreenkomste tussen die boek en die film wel op oortreding van die kopieregwet neerkom.
Braddock het intussen versoek dat die rolprent se bekendstelling op 23 Desember uitgestel moet word en hy eis ook 'n onbekende bedrag geld vir skadevergoeding.
– Bang Showbiz.