John Travolta se motor in stukke gevind
2012-01-26 21:57
Los angeles – Die polisie in Kalifornië het twee mans in hegtenis geneem wat daarvan verdink word dat hulle ‘n antieke Mercedes, wat aan die akteur John Travolta behoort, gesteel het.
Die motor is opgespoor, maar dit was in stukke, het ‘n woordvoerder Woensdag gesê.
Die 1970 Mercedes-Benz 280SL is verlede September gesteel nadat die akteur dit vir slegs ‘n paar minute op ‘n straat in Santa Monica gelos het terwyl hy na ‘n Jaguar-handelaar gegaan het.
“Speurders het video-beeldmateriaal van die voertuig en die verdagtes gevind terwyl hulle die motor steel,” het ‘n polisie-woordvoerder gesê.
Hy het bygevoeg dat die polisie heelwat wenke van die publiek ontvang het nadat die storie in die nuus was.
Die twee mans, wat glo betrokke was in ‘n motordiefstal-sindikaat, is in hegtenis geneem en as Michael Green (58) en DL Rayford jnr (52) geïdentifiseer.
Speurders het die sindikaat ontbind en het Travolta se motor en verskeie ander gesteelde motors gevind.
Travolta het beraam dat die motor se waarde sowat $35 000 (R273 717) is, maar volgens Lewis kan dit meer wees.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP