John Cleese praat oor Spud
2010-11-26 08:41
Amanda de Lange
Johannesburg - John Cleese sit-lê agteroor in ’n leunstoel, sy linkerbeen voor hom uitgestrek met sy voet op die lessenaar voor hom.
Dis die dag voor die Johannesburgse première van die fliek Spud: The Movie en hy het pas in Suid-Afrika aangeland. Die been is ongemaklik, verduidelik hy, nadat hy ses maande gelede ’n algehele knievervanging gehad het.
“Dis die moeilikste ding waarvan ek tot nóg toe moes herstel,” vertel hy.
En, voeg hy by, die vliegrit Suid-Afrika toe het nie gehelp nie. Selfs al hét hy besigheidsklas gevlieg. “Daar is niks beenspasie nie – veral nie as jy langer as ses voet is nie. Die wêreld is vir dwergies gemaak.”
Dan bekyk hy my en sê: “Jy klink verdag baie na ’n Boer.”
Ek beken my herkoms en beland aan die ontvangkant van ’n lang relaas oor die oorlog. (“Moet hom net nie oor die oorlog uitvra nie,” het iemand op Facebook nog gewaarsku.)
Ná die lang draai kom ons toe darem tog wel by Spud, komedie, en die betaal van onderhoud aan eks-vroue uit.
Hy hou nie juis van flieks maak nie, vertel die Britse koning van komedie.
“Dis vervelig. Dis meestal ’n geval van hurry up and wait. En die meeste draaiboeke is in elk geval nie baie goed nie. Maar as jy ’n goeie draaiboek kan kry en as jy gelukkig genoeg kan wees om te werk saam met mense soos Donovan (Marsh) – wat ’n uitstekende regisseur is – dan doen jy dit.”
En nee, sê hy, daar steek absoluut geen waarheid in die gerug dat hy nie aan klein, onafhanklike flieks werk nie. “Wie vertel jou daardie leuen?” wil hy weet, maar wag nie vir ’n antwoord nie. “Ek weet nie waar ek my reputasie kry nie. Dit lyk of mense huiwerig is om vir my aanbiedinge te maak.”
Terug na Spud (wat op 3 Desember begin draai), Marsh en die kinderakteurs met wie hy saamgewerk het: “Donovan is uitstekend. Hy weet wat hy doen en hy weet wat hy wil hê, maar nogtans is hy buigsaam. En dit was baie lekker om saam met die kinders te werk. Hul rolverdeling is volmaak gedoen en dit was maklik om teenoor hulle te speel. ”
Oor die 14-jarige Troye Sivan, wat die rol van Spud, oftewel John Milton, speel, is Cleese vol lof. “Troye is beminlik. Ek is in onderhandelinge om hom aan te neem. Hy is uitsonderlik en hy weet baie meer omtrent toneelspel as wat enigiemand van daardie ouderdom die reg het om te weet,” laat hoor hy vaderlik-trots.
“Hy maak voorstelle oor tonele en dan dink ek, ‘waar kom dit vandaan; hoe weet hy dit?’ Tog is sy voete vas op die aarde. Hy is ’n wonderlike mensie.”
Maar die hele belewenis daarvan om aan Spud te werk, was vir Cleese ’n hoogtepunt. Almal was “wonderlik”. Wat ’n goeie ding is as ’n mens in ag neem dat jy soveel tyd saam met hulle op die stel bestee, voeg hy by.
Dit was die draaiboek wat die deurslag gegee het, vertel hy. Sy enigste bekommernis was toe oor die regisseur, “want hy was die enigste een wat dit sou kon opmors”.
Dié dat hy sommer daar en dan vir Marsh gebel het om vas te stel of dié darem weet wat hy doen. Hy was gerus gestel en het die aanbod aanvaar.
’n Mens wonder wat vir Cleese voorlê. Met ’n magdom rolle, sy skryfwerk en sy eenmanvertonings agter hom wil jy weet wat nog vir hom ’n uitdaging kan bied.
En wat daar is wat hy nog sou wou doen.
“Die eerlike waarheid is dat my lewe op die oomblik bepaal word deur die feit dat ek vir die volgende klompie jare ’n miljoen dollar per jaar aan onderhoud moet betaal (aan sy gewese vrou, Alyce Faye Eichelberger).
“Dit is dus ’n groot oorweging. Andersins sou ek baie eerder meer van my tyd daaraan wou bestee om te skryf. En ek sal baie graag dokumentêre programme wil maak.”
Maar sou daar ’n vervolg wees van Spud: The Movie sal hy “soos ’n blits” terug wees in Suid-Afrika om weer die rol van The Guv te vertolk, sê Cleese.
Want soms, net soms, beland ’n draaiboek op jou tafel wat eenvoudig te goed is om weg te wys – al hou jy nie van flieks maak nie.
- Beeld