James Farentino sterf aan hartversaking
2012-01-25 13:30
Los Angeles – James Farentino, wat in talle films en televisiereekse verskyn het, is in die ouderdom van 73 in ‘n hospitaal in Los Angeles dood, het ‘n familie-woordvoerder gesê.
Volgens Bob Palmer is Farentino Dinsdag ná ‘n lang siekbed by die Cedars-Sinai-hospitaal aan hartversaking dood.
Farentino het saam met Kirk Douglas en Martin Sheen in die 1980 wetenskapfiksie-film The Final Countdown gespeel.
Hy het ook teenoor Patty Duke in die 1969 film Me, Natalie gespeel.
Hy het rolle in Dynasty, Melrose Place, The Bold Ones: The Lawyers en ER gehad.
In ER het hy die vervreemde pa van George Clooney se karakter vertolk.
Farentino is vier keer geskei en sy onstuimige persoonlike lewe het gesorg dat hy gereeld in die nuus was.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP