Jackson weer postuum vereer
2010-01-31 07:58
Los Angeles – Michael Jackson is Saterdag weer postuum vereer toe hy saam met ses ander musikante, insluitend Leonard Cohen en Loretta Lynn, Grammy-toekennings gekry het vir lewenslange bydrae.
Daar was spekulasie dat Jackson se kinders die toekenning namens hom sou ontvang, maar sy familie het nie die seremonie by die Wilshire Ebell-teater bygewoon nie.
Jackson se voormalige bestuurder, Frank DiLeo, het die toekenning ontvang en die popster beskryf as “’n snaakse ou, hy het ‘n sin vir humor gehad soos julle nie weet nie.”
Die sanger is verlede jaar op die ouderdom van 50 dood aan ‘n oordosis dwelms. Hy het in sy leeftyd 13 Grammys gewen.
‘n Ongeskeerde Cohen het gesê hy het nog nooit ‘n Grammy vir enige van sy albums gewen nie.
“Soos wat ons ons weg maak na die eindstreep, wat baie van ons al oorgesteek het, het ek nooit gedink dat ek ‘n Grammy-toekenning sou kry nie. Ek was nog altyd geraak deur die nederigheid van hul belangstelling,” het hy tot groot applous gesê.
Bobby Darin, bekend vir liedjies soos “Mack the Knife” en “Splish Splash” is ook postuum vereer.
Die ander toekennings het gegaan aan 95-jarige blues kitaarspeler David “Honeyboy” Edwards, die 89-jarige jazz trompetspeler Clark Terry, die country sanger Loretta Lynn en die klassieke pianis, dirigent en komponis Andre Previn.
- Sapa