Jackson-verhoor: Kiesing van jurielede begin
2011-09-09 23:00
Los Angeles – Die kiesing van jurielede vir die verhoor van Michael Jackson se persoonlike dokter, Conrad Murray, het Donderdag begin, het Cover Media berig.
Murray word vir onvrywillige manslag aangekla nadat Jackson in Junie 2009 dood is ná Murray die verdowingsmiddel propofol en ander kalmeermiddels vir hom gegee het vir sy chroniese slapeloosheid.
Murray het skuld ontken.
Die kiesing van jurielede is vroeër vanjaar vertraag nadat Murray se regspan meer tyd nodig gehad het om hulle voor te berei.
Daar word beweer dat 1 600 mense as moontlike kandidate vir die jurie aangewys is.
Elkeen sal ‘n 30-bladsy vrae en antwoordlys ontvang wat hulle moet voltooi. Hulle sal gevra word oor wat hulle van die saak weet en hoe hulle oor Jackson en Murray voel.
Die staat en verdediging sal daarna tyd kry om deur die antwoordstelle te gaan. Kandidate sal vanaf 23 September ondervra word.
– Volg Nuus24 op Twitter.