‘Jackson soos slapende baba op ’n tafel gelos’
2011-10-15 09:15
Los Angeles – Michael Jackson sou geleef het as dit nie was vir ses “buitengewone afwykings” in sy behandeling nie.
Dr. Alon Steinberg, ’n kardioloog, is vandeesweek deur die aanklaers in die saak teen dr. Conrad Murray, Jackson se private dokter, as ’n getuie opgeroep.
Steinberg het Murray se optrede, soos om Jackson alleen te laat, gelykgestel aan om ’n slapende baba op ’n tafel in die kombuis te los: “Jy sal dit nie doen nie omdat daar die gevaar is dat die baba kan val of ’n mes of iets kan gryp. Jy doen dit eenvoudig nie.”
Hy het die ses misstappe uitgestippel.
Dr. Nader Kamangar, ’n kenner oor slaapsteurnisse, het ook vandeesweek getuig Murray se “mengeldrankie” van medikasie om Jackson te laat slaap was “oneties, ontstellend en onbegryplik”.
Hy het gesê Jackson het ontoepaslike behandeling sonder toesig gekry.
Ses dodelike foute
Murray moes nie propofol gebruik het teen Jackson se chroniese slapeloosheid nie.
Jackson moes nie propofol tuis gekry het sonder die regte toerusting, bystand en mediese personeellede nie.
Murray het nie voldoende voorbereidings getref vir ’n moontlike noodgeval nie.
Hy het “onverklaarbaar” mond-tot-mond-asemhaling met een hand op ’n bed gedoen en op die hart gefokus. Hy moes lug in Jackson se longe probeer kry het en sy nog kloppende hart uitgelos het. Die mond-tot-mond moes ook met twee hande op ’n harde oppervlak gedoen gewees het.
Hy het te lank geneem om 911 te bel nadat Jackson ophou asemhaal het. Die paramedici was binne net vier minute op die toneel.
Murray het geen mediese inligting gehad om Jackson te help in ’n noodgeval nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
– Beeld