Jackson se treffer toe nie so nuut
2009-10-13 11:00
Los Angeles – Michael Jackson se nuutste treffer, “This Is It”, skynbaar gister vir die eerste keer bekendgestel, is glad nie so nuut nie.
Musiekliefhebbers en aanhangers van die afgestorwe ikoon, is van mening dit klink al te veel soos ‘n opname wat 18 jaar gelede gemaak is.
“This Is It” was veronderstel om ‘n splinternuwe opname te wees wat vier maande na Jackson se dood, vir die eerste keer gehoor kon word.
Aanhangers sê egter die wysie en lirieke is so te sê identies as ‘n onbekende opname wat in 1991 deur SaFire gemaak is.
‘n Weergawe van die SaFire liedjie, “I Never Heard”, is op YouTube beskikbaar.
Intussen het Paul Anka, wat as tiener ‘n bekende in Los Angeles was, gesê hy en Michael het die liedjie in 1983 saam geskryf. Anka beweer nou selfs dat Jackson die kasset met die lied op, by hom gesteel het.
Sony musiek het nie onmiddellik op die aantygings gereageer nie.
John Branca, eksekuteur van Jackson se boedel, het egter erken dat Michael en Anka saam die liedjie geskryf het.
- Reuters