Jackson se ma, kinders kry R200m van sy boedel
2011-09-14 17:58
Los Angeles – Michael Jackson se ma, Katherine, en sy drie kinders sal $30 miljoen (sowat R222 miljoen) ontvang, nadat die eksekuteurs van die ontslape sanger se boedel die geld aan die familietrust beskikbaar gestel het.
Die eksekuteurs het Dinsdag in hofdokumente gesê sedert Jackson se dood in Junie 2009 het die boedel meer as $310 miljoen (sowat R2,2 miljard) gegenereer. Dít het hulle in staat gestel om ‘n hele paar skuldeisers en lenings klaar te betaal.
Hulle het ook bekend gemaak dat Katherine die familie se huis in Encino, Kalifornië, wil verkoop en ‘n nuwe woning vir haar en die kinders wil vind.
Die familie woon tans tydelik in ‘n huis in Calabasas terwyl die woning in Encino opgeknap word.
‘n Verhoor vir ‘n regter se goedkeuring van dié plan sal op 28 September aangehoor word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP