Jackson se kinders wil getuig
2011-09-27 10:12
Los Angeles – Michael Jackson, die ontslape Koning van Pop, se twee oudste kinders wil ook in dr. Conrad Murray se verhoor getuig.
Prince Michael (14) en Paris (13) is vasbeslote om bewyse teen Murray in te dien.
Murray word daarvan verdink dat hy die sterk verdowingsmiddel Propofol aan Jackson gegee het wat tot die sanger se dood in Junie 2009 gelei het.
Murray het skuld op 'n aanklag van onvrywillige manslag ontken.
Jackson se ma, Katherine, dink egter nie sy kinders moet getuig nie.
‘n Bron na aan die Jackson-familie het aan RadarOnline.com gesê Katherine is nie ten gunste van dié idee nie omdat sy weet hoe traumaties dit vir hulle gaan wees.
Prince Michael en Paris hou volgens dié bron egter vol hulle wil aan die jurie vertel wat hulle op die dag van hul pa se sterfte gesien het.
“Prince en Paris is vasbeslote om die getuiebank in te neem. Aan die einde van die dag dink ek nie Katherine sal die kans van hulle wegneem nie, al wil sy nie hê hulle moet dit doen nie. Die kinders het gesê hulle wil nie hê hul pa se nalatenskap moet deur die verhoor skade lei nie en hulle glo hul bewyse sal help om Murray skuldig te bevind.”
– Bang Showbiz.
– Volg Nuus24 op Twitter.