Jackson se kinders bring hulde aan pa
2011-10-10 10:14
Wallis – Michael Jackson se kinders het 'n huldigingskonsert wat in Cardiff, Wallis vir hom gehou is, bygewoon, berig Cover Media.
Jackson se drie kinders, Prince, Paris en die negejarige Blanket, het hul pa tydens die Michael Forever-konsert vereer.
Paris het ‘n replika van haar pa se ikoniese rooi-en-swart leerbaadjie wat hy tydens die Thriller-musiekvideo aangehad het, gedra. Sy het aan die gehoor van ongeveer 50 000 mense gesê hulle is baie bly om by die spesiale aand teenwoordig te wees om hul pa te vereer.
Bekende kunstenaars soos Christina Aguilera, Leona Lewis, Gladys Knight en Ne-Yo het die gehoor vermaak.
Jackson se ma, Katherine, en sy suster, LaToya, het die konsert bygewoon.
Janet Jackson, Randy en Jermaine het egter aangedui hulle gaan nie die konsert bywoon nie omdat dit saam met die verhoor van dr. Conrad Murray, Jackson se persoonlike dokter, val.
Murray staan tereg op ‘n aanklag van onvrywillige manslag. Hy het skuld ontken.
Die staat beweer Murray het die sterk verdowingsmiddel propofol aan Jackson gegee, wat tot die sanger se dood in Junie 2009 gelei het.
– Volg Nuus24 op Twitter.