Jackson se eksvrou steeds ma vir sy kinders
2011-11-08 13:12
Los Angeles – Michael Jackson se kinders is besig om ‘n nuwe lewe te bou met die hulp van die sanger se eksvrou, Debbie Rowe.
Prince (14), Paris (13) en Blanket (9) word deur Jackson se ma, Katherine (81), grootgemaak by haar huis, ongeveer 30 km noord van Los Angeles.
Rowe, die ma van Jackson se twee ouer kinders, speel egter ook ‘n groot rol in hul lewens.
Jackson het voor sy dood gesê dat hy ‘n einde wil bring aan sy swerwersbestaan en rustiger wil word saam met sy familie.
Sy kinders het nou die stabiliteit waarvan hulle pa gedroom het, het Brian Oxman, prokureur vir die Jackson-familie, gesê.
“Al drie kinders gaan skool en Prince het selfs ‘n vriend wat gereeld kom kuier.”
Oxman het bevestig dat Rowe (52) die kinders gereeld onder toesig besoek.
Rowe en Katherine het in Augustus 2009 ‘n ooreenkoms bereik om ‘n einde te maak aan die tweespalt tussen die twee families.
– Daily Mail.
– Volg Nuus24 op Twitter.