Jackson se dokter gaan verhoor word
2011-01-12 09:51
Los Angeles – ‘n Regter het beveel dat Michael Jackson se dokter verhoor moet word op ‘n aanklag van onopsetlike manslag.
Dié besluit teen dr. Conrad Murray is Dinsdag gemaak ná ‘n ses dae lange voorlopige verhoor in Los Angeles.
Volgens owerhede het die 57-jarige Murray die verdowingsmiddel Propofol en ander kalmeermiddels aan Jackson voorgeskryf vir sy chroniese slapeloosheid, maar het versuim om behoorlik na die popster om te sien.
Staatsaanklaers het die verhoor afgesluit met getuienis van twee dokters wat gesê het Murray het buite die standaarde van mediese behandeling opgetree.
Selfs al het Jackson self sy laaste dosis van die verdowingsmiddels toegedien, sal sy dood steeds manslag wees vanweë Murray se aksies, het die dokters getuig.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP