Jackson se Thriller-baadjie vir R 12 milj. verkoop
2011-06-27 10:16
Los Angeles – Die ikoniese swart en rooi leerbaadjie wat Michael Jackson in sy Thriller-video gedra het is vir $1.8 miljoen (sowat R12 miljoen) verkoop.
Dié leerbaadjie was een van twee baadjies wat Jackson tydens die verfilming van die video gedra het.
Die baadjie is die afgelope naweek in Kalifornië opgeveil en is Sondag aan ‘n handelaar van Texas verkoop.
Die finale prys is heelwat meer as die verwagte prys van $200 000 (sowat R1,3 miljoen).
Die koper, Milton Verret, beplan om die leerbaadjie te gebruik om geld vir liefdadigheidsorganisasies in te samel terwyl ‘n gedeelte van die geld aan die Shambala-reservaat geskenk sal word waar Jackson se twee Bengaalse tiere, Thriller en Sabu, woon sedert hy sy Neverland-woning in 2006 verlaat het.
Die veiling het Sondag, ‘n dag ná die herdenking van die Koning van Pop se dood, plaasgevind.

– Contact Music.
– Volg Nuus24 op Twitter.