Jackson-rolprent gaan China toe
2009-10-06 13:03
Hong Kong – Die dokumentere rolprent This is it, wat oor die ontslape superster Michael Jackson handel, het een van die laaste beskikbare openinge van die 20 jaarlikse buitelandse rolprente wat in China toegelaat word, net betyds opgeraap.
Chinese rolprentsensors het die film goedgekeur net voor die weeklange ‘nasionale-dag’ vakansie, wat op 1 Oktober afgeskop het.
Dit is net betyds om die film se bekendstelling wat op 28 Oktober sal plaasvind, te haal.
China kan slegs 20 buitelandse rolprente per jaar uitreik en Hollywood rolprente is gewoonlik baie gewild.
Volgens Li Chow, Sony Pictures Releasing International se hoofbestuurder vir China, sal die rolprent landswyd bekendgestel word as gevolg van Jackson se gewildheid in China.
Li het gesê aantal silwerdoekskerms waar die fliek te sien sal wees, sal afhang wat hulle voor die 28ste kan uitrig.
China het aan die einde van 2008 reeds sowat 4100 silwerdoekskerms gehad.
Michael Jackson: This Is It maak gebruik van beeldmateriaal van Jackson wat voorberei vir ‘n reeks konserte in Londen net voor sy dood in Junie vanjaar. Jackson is dood voor dié optredes kon plaasvind.
- Sapa-AP