Jackson-ma: ‘Vier jaar is nie genoeg nie’
2011-11-30 08:28
Los Angeles – Michael Jackson se ma, Katherine, het die maksimum vonnis van vier jaar wat dr. Conrad Murray opgelê is verwelkom, maar gesê dit is nie genoeg nie.
Murray (58), wat skuldig bevind is op ‘n aanklag van onvrywillige manslag, is Dinsdag tot vier jaar tronkstraf gevonnis.
“Vier jaar is nie genoeg vir iemand se lewe nie. Dit sal hom nie terug bring nie. Maar ten minste het hy die maksimum gekry. Ek dink die regter was regverdig,” het Katherine gesê toe sy die hof in Los Angeles verlaat het.
“Vier jaar sal nie my seun terugbring nie, maar dis die gereg so… ek is dankbaar vir die regter en dankbaar vir die staatsaanklaers. Ek dink alles het goed afgeloop,” het sy aan verslaggewers gesê.
Jackson se suster Reebie het gesê sy voel geen aantal dae wat in ‘n tronksel deurgebring gaan word kan opmaak vir die feit dat jy iemand se lewe geneem het nie.
Jackson is op 25 Junie 2009 oorlede weens ‘n oordosis van die sterk verdowingsmiddel propofol.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP