Jackson het gesmeek vir propofol
2011-10-26 08:45
Los Angeles – Michael Jackson het twee maande voor hy gesterf het gesmeek dat propofol aan hom gegee moet word om hom te help slaap.
Volgens die ontslape Koning van Pop het medici hom verseker dit is veilig, het ‘n verpleegster Dinsdag in die verhoor van dr. Conrad Murray getuig.
Jackson het glo aan Cherilyn Lee, ‘n verpleegster, gesê dokters het hom ingelig hy mag die dwelmmiddel neem solank hy gemonitor word.
“Die enigste medikasie wat regtig help om my aan die slaap te laat val is propofol,” het Lee vir Jackson aangehaal.
Murray staan tereg op ‘n aanklag van onvrywillige manslag nadat hy glo vir Jackson ‘n mengsel van dwelms gegee het wat tot die sanger se dood in Junie 2009 gelei het.
Murray het maandeliks $150 000 (sowat R1,1 miljoen) verdien om na Jackson se gesondheid om te sien by sy herehuis in Londen. Jackson was besig met repetisies vir sy reeks This is It-konserte in Londen.
Lee het aan die hof vertel hoe sy op 19 April na die sanger se huis gegaan het nadat hy haar gevra het om propofol deur middel van ‘n drup aan hom toe te dien omdat ander behandelings nie werk nie.
Die 58-jarige Murray het aan die polisie gesê hy het Jackson vir twee maande met propofol behandel maar het drie dae voor sy dood begin om hom daarvan af te kry.
In ‘n polisie-onderhoud wat vroeër tydens die verhoor gespeel is, het Murray vertel hoe hy probeer het om Jackson om 01:00 aan die slaap te kry maar kon dit nie regkry nie. Hy het om 10:40 besluit om 25 mg propofol aan Jackson te gee.
Hy het die sanger daarna twee minute alleen gelaat om badkamer toe te gaan, maar toe hy terugkeer het Jackson nie meer asem gehaal nie.
In ander verwikkellinge Dinsdag het die regter Murray se prokureurs verbied om vrae te vra oor Jackson se multimiljoendollar kontrak vir sy finale reeks konserte.
Randy Phillips van AEG Live het aan die hof vertel dat Jackson ingestem het om 50 vertonings in Londen te doen en nie 31 soos aanvanklik ooreengekom is nie.
Die voorwaardes was dat die laaste konsert in die Guinness Book of Records aangeteken word en dat die organiseerders van die This is It-konserte vir hom 'n landgoed buite Londen kry.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP