Jackson het geglo hy sou in sluipmoord sterf
2011-10-03 12:13
Los Angeles – Michael Jackson was oortuig dat 'n sluipmoordaanval op hom beplan word en hy het dit oorweeg om in 'n koeëlvastebaadjie tydens sy This Is It-konsert op te tree, het die ontslape popster se lyfwag onthul.
Matt Fiddes, Jackson se lyfwag ten tyde van sy dood in 2009, het gesê die sanger het tydens sy verhoor vir kindermolestering in 2005 'n koeëlvastebaadjie gedra, het NME.com op hul webwerf berig.
Jackson was glo ook oortuig hy sou geskiet word tydens die perskonferensie wat hy gehou het om sy vertonings bekend te stel.
Volgens Fiddes het Jackson toe 'n halwe bottel whisky gedrink om sy senuwees te kalmeer.
"Dit was Michael se eerste openbare verskyning in 'n lang tyd en hy was daarvan oortuig hy sou vermoor word oor al die negatiewe mediaberigte," het Fiddes gesê.
Dr. Conrad Murray, Jackson se persoonlike dokter, se verhoor is tans aan die gang in Los Angeles.
Murray het skuld ontken op 'n aanklag van onvrywillige manslag. Hy kan tot vier jaar tronkstraf opgelê word indien hy skuldig bevind word.
– Volg Nuus24 op Twitter.