Jackson-dokter pleit om vrylating
2012-01-28 13:00
Los Angeles – Die dokter wat ná Michael Jackson se dood op aanklag van onvrywillige manslag veroordeel is, het 'n regter gevra om hom hangende sy appèl op borgtog vry te laat.
Dr. Conrad Murray het Vrydag in hofdokumente gesê hy moet of op sy eie verantwoordelikheid of met 'n elektroniese monitorstelsel vrygelaat word. Hy het gesê hy is nie 'n gevaar vir die samelewing nie.
Murray, wat 'n vier jaar lange vonnis uitdien, het gesê hy sal probeer werk soek om sy sewe kinders te onderhou.
Sy prokureur het gesê hy word in afsondering aangehou en word aan 'n tafel vasgemaak wanneer hulle vergader.
Die prokureur het ook gesê die vonnis en aanhouding is baie erg vir 'n man wat geen vorige veroordelings het nie, en dat Murray berouvol is oor Jackson se dood.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP