Jackson-dokter dalk in die sop
2009-10-02 14:06
Los Angeles – Die verslag van Michael Jackson se nadoodse ondersoek het verrassende resultate opgelewer.
Die sanger was glo in ‘n redelike goeie en gesonde toestand vir ‘n man van sy ouderdom en geen onwettige dwelmmiddels kon in sy sisteem opgespoor word nie.
Jackson se fisieke toestand, soos wat dit in die verslag aangedui word, kan 'n rol speel wanneer aanklaers hulle klagtes oorweeg teen Jackson se dokter, Conrad Murray, wat aan die polisie gesê het dat hy ‘n sterk verdowingsmiddel aan Jackson gegee het kort voor sy dood.
Die lykskouer het Jackson se dood toegeskryf aan moord, veroorsaak deur ‘n oordosis van die verdowingsmiddel propofol, gekombineer met ander medikasie.
Hy het gevind dat die propofol aan Jackson gegee is sonder dat hy dit nodig gehad het en dat die nodige toerusting om hom te resussiteer nie beskikbaar was nie.
Die lykskouer se bevindings maak dit moeilik vir Murray om sy optrede te verdedig – hy kan nie aanvoer dat Jackson ernstige voorafbestaande mediese kondisies weggesteek het wat die risiko van dood deur die medikasie verhoog het nie.
“Dit dui duidelik daarop dat Jackson ‘n gesonde persoon was wie se dood blykbaar direk veroorsaak is deur die inname van baie sterk verdowingsmiddels,” het Mark Werksman, 'n advokaat en voormalige staatsaanklaer gesê.
- Sapa-AP