Jackson-dogter moet wag met loopbaan
2012-01-13 11:45
Los Angeles – Janet Jackson, suster van Michael Jackson, die ontslape Koning van Pop, wil hê sy dogter, Paris, moet nie so haastig wees met haar loopbaan in die filmbedryf nie.
Janet het aan die 13-jarige Paris, wat glo reeds ingestem het om in die animasiefilm Lundon's Bridge and the Three Keys te verskyn, gesê om nie op so 'n jong ouderdom betrokke te raak in die vermaaklikheidswêreld nie en dat sy op haar opvoeding moet fokus.
"Ek sal verkies dat sy nog 'n tydjie moet wag en haar jeugdigheid geniet," het Janet gesê wat op die ouderdom van sewe saam met haar broers in 'n vertoning in Las Vegas te sien was.
"Jy is net eenkeer jonk. Sy het die res van haar lewe om 'n volwasse persoon te wees en sy moet studeer. Sy moet skooltoe gaan en studeer en dalk aan haar tersiêre onderrig dink of dalk oorsee drama gaan studeer. So wanneer sy 18 is, is sy gereed vir enigiets."
Paris, wat twee broers, Prince Michael (14) en Prince Michael II (9) het, het glo haar ouma, Katherine, oorreed om haar toestemming te gee sodat sy in die film kan speel.
Sy het glo aan haar ouma gesê die film, wat werklike sowel as animasiekarakters sal bevat, dra 'n boodskap wat haar pa sou waardeer.
– Bang Showbiz.
– Volg Nuus24 op Twitter.