Jack Parow stel nuwe album, braaisous bekend
2011-11-17 11:30
Kaapstad – Die Afrikaanse rapper Jack Parow gaan sy tweede album Eksie Ou onder sy eie platemaatskappy, Parowphernalia, bekendstel.
Volgens Louise Crouse, woordvoerder van Parow, sal die album rakke vroeg in Desember 2011 tref en sy beste werk nog kan verwag word.
"Soos my vorige album is dit maar ‘n mix van ‘n groot verskeidenheid musiek. Dit beweeg van harde hip-hop beats na dub-step dan na rave en ook volwasse kontemporêre musiek. Ek is nie seker wat volwasse kontemporêre musiek is nie, maar dit klink heavy. So ja, dis maar weereens net ‘n reis deur verskillende invloede wat my begeester het gedurende die skryfproses en dronk aande. Maar ek dink dit is lekker; iets vir almal en almal vir iets, soos die Drie Musketeers gesê het.”
Eksie Ou volg op Parow se eerste album Jack Parow wat verlede jaar in Mei vrygestel is. Meer as 50 000 eksemplare van dié album is reeds verkoop.
Parow se nuwe album is vervaardig deur Justin de Nobrega, wat ook verantwoordelik was vir sy eerste album.
Parow het ook van sy vriende nader getrek om deel te wees van die album en bekende stemme van David Kramer, Francois van Coke (Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel), Pierre Greeff (Die Heuwels Fantasties), Gazelle, Haezer, PH Fat en Sibot kan op die album gehoor word.
Parow gaan ook voor einde November sy eie braaisous bekendstel, wat by alle Checkers-winkels in die Wes-Kaap te koop sal wees.
Sy volgende optredes:
27 November: Kirstenbosch Botaniese Tuine, Kaapstad
2 Desember: Cool Runnings, Fourways
5 Desember: Durban Rage
8 Desember: Plett Rage
10 Desember: Big Top Arena, Carnival City
21 Desember: Struisbaai, MK Avontoer
23 Desember: Langebaan, MK Avontoer
31 Desember: Jeffreys Bay beachfront
– Volg Nuus24 op Twitter.