Jack Parow is cooler as WB 2010 op Google
2010-12-15 07:24
Beeld
Johannesburg - Suid-Afrikaners wat die internet-soekenjin Google gebruik, het vanjaar meer in Justin Bieber en Jack Parow as in WB 2010 belang gestel.
Die Kanadese tienerpopsensasie en die vuilbekkige Afrikaanse rapper was onderskeidelik die gewildste en derde gewildste mense vir Google-soektogte uit Suid-Afrika, volgens Google se Zeitgeist-navorsing wat die soekneigings van die wêreld uitwys.
Parow is geklop deur Nicki Minaj, ’n hip hop-kunstenaar van Trinidad wat die land gaande het met haar liedjies “Your Love” en “Right through Me”.
Die omstrede Suid-Afrikaanse groep Die Antwoord het die vyfde plek op dié lys behaal.
Wat die gewildste onderwerpe vir Suid-Afrikaners betref, was Facebook eerste, gevolg deur Gmail, Google en Gumtree.
Die soekterme “Bafana”, “Kaizer Chiefs”, “Julius Malema” en “Zuma” was ook baie gewild.
Wêreldwyd het Chatroulette (’n Russiese webwerf wat vreemdelinge in verbinding bring sodat hulle oor webkameras met mekaar kan gesels), die iPad en Bieber die drie topplekke in die vermaak-afdeling behaal. Twitter was agtste en Facebook tiende.
Google het ook navorsing gedoen oor soektogte wat sedert verlede jaar gedaal het. Stephenie Meyer se Twilight-boeke, die sangsensasie Susan Boyle en Michael Jackson het dié lys gehaal.
Wat nuus betref, was die Haïti-aardbewing die gewildste soektog, gevolg deur die Turkse sportklub Besiktas, Chili, die woord “aardbewing”, Lady Gaga en die iPhone 4.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld