JM Coetzee help maak ’n opera van boek
2011-08-27 07:16
Johannesburg – Vir die heel eerste keer is JM Coetzee betrokke by die aanpassing van een van sy romans.
Coetzee, ’n wenner van die Nobelprys vir letterkunde, skryf die libretto vir die opera Slow Man. Die komponis is Nicholas Lens. Hul samewerking het in 2002 begin.
Coetzee het vrae oor die libretto en die opera na Lens verwys.
“Ek en John Coetzee korrespondeer al sedert 2002 toe ek aangebied het dat ons aan ’n projek saamwerk,” sê Lens.
“Nadat ons lank gekorrespondeer het, het hy voorgestel dat ons aan ’n hoofstuk in Slow Man werk.
“Ons het daaraan begin werk en later het ons die hele roman gebruik as inspirasie vir ’n operaweergawe.”
Slow Man is die eerste roman van Coetzee wat gepubliseer is nadat hy die Nobelprys gewen het.
“Nadat ons besluit het op die karakters, is die opera-aanpassing in woorde omgesit. Hierdie opera-teks het ons in staat gestel om die teaterstruktuur van die werk te vind.”
Die produksie is geskryf vir twee dansers, drie sangers (’n kolora- tuursopraan vertolk die rol van Marijana, ’n mezzosopraan die rol van Elizabeth Costello en ’n bariton die rol van Paul Rayment), ’n vrouekoor van 15 lede en ’n orkes van 47 lede. Dit sal om en by twee en ’n half uur duur.
Die opera fokus op die verwik- kelde verhouding tussen die drie karakters eerder as om die boek as sodanig weer te gee.
“Aangesien ’n groot deel van die narratief in die gedagtes van die karakters afspeel, het ons besluit om die identiteite van twee van die karakters, Marijana en Paul Rayment, in onderskeidelik ’n sanger en ’n danser te verdeel.
“Op hierdie manier kan die intieme oordenking van die twee hoofkarakters en die gesprekke met hul gewete in ’n statiese én nie-statiese manier uitgedruk word.
“Die spieëleffek van ’n dubbele identiteit skep moontlikhede wat die verlede, hede en toekoms betref
“In die skryfproses het die Marijana-karakter al hoe belangriker geword; sy is ook gewis meer teenwoordig in die roman.
“Dit was nie aanvanklik ons bedoeling nie, maar dit was iets onverklaarbaars wat in die skryfproses plaasgevind het. Dis asof sy letterlik ’n stem ontvang het en sy maak van daardie stem gebruik.
“Vir die Elizabeth Costello-karakter was ’n verdeling nie nodig nie, aangesien die natuurlike oorheersing en teenwoordigheid van een Elizabeth Costello alles vul en nie juis ’n tweede deel benodig nie.
“Paul Rayment is, in Coetzee se woorde, net iemand (“He is just a guy.”).
Die vrouekoor op die verhoog stel ’n skare voor of ’n verbeelde, vermenigvuldigde verpleegster.
“Aangesien al hierdie besluite saam geneem is, is dit moeilik om te sê watter deel van die werk van Coetzee of van my was. Die opera-aanpassing het ’n gedeelde werk geword.
“Natuurlik is Coetzee se aandeel baie groot aangesien hy die skrywer van die oorspronklike verhaal en die skepper van die karakters is.
“Eerder as wat die opera die oorspronklike verhaal volg, was dit ons bedoeling met Slow Man in sy vorm as kontemporêre opera dat die poësie die innerlike besinnings van die drie genoemde karakters oproep en benadruk.
“Ek kan maar net hoop die musiek bring die karakters se skitterende self na vore en dat dit op ’n minsame manier die verhaal dien.
“Wat ek vir seker kan sê, is dat ek en Coetzee besluit het om ons samewerking voort te sit. Ons beplan ’n volgende opera.”
Daar word beoog om Slow Man op 5 Julie 2012 in Pole op sy wêreldpremière bekend te stel as deel van die Maltafees in Poznan, Pole.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld