Irene van Wyk ‘spook’ in huis
2010-01-25 07:35
Philip de Bruin
Kaapstad - ’n Onsigbare “teenwoordigheid” in die huis van wyle Irene van Wyk, wat veral as gospelsangeres naam gemaak het, het die huurders van haar huis in Murrayfield, Pretoria, laat besluit om te trek.
Die jong Engelssprekende egpaar – wat nóg Van Wyk nóg haar gewese man, die musiekpromotor Louis van Wyk, geken het toe hulle sowat twee maande gelede ingetrek het – het die “teenwoordigheid” die laaste keer op 12 Januarie ervaar.
Louis van Wyk het gister gesê ná Irene se skielike dood in ’n motorbotsing op die Delmaspad op 12 Oktober is haar huis skoongemaak en te huur aangebied.
“So drie weke nadat die jong paartjie ingetrek het, het die man my gebel en gesê hy en sy vrou ervaar ’n teenwoordigheid in die huis, asof iemand hulle dophou. Hulle het twee keer om presies drie-uur die oggend wakker geword van dié teenwoordigheid.
“Volgens hom het albei van hulle yskoud geword. Omdat van Irene se goed nog in bokse in die huis was, het ons dit daar gaan uithaal. Drie weke later het die man egter gebel en gesê dié teenwoordigheid het hulle weer die oggend om presies drie-uur wakker gemaak.
“Ek het met mense in Irene se kerk gaan praat. Hulle het ’n vrou, wat ek net Madame X sal noem omdat sy glad nie haar naam genoem wil hê nie, na die huis gestuur.
“Toe Madame X daar uitkom, was sy in ’n toestand. Sy het Irene, wat sy ook hoegenaamd nie geken het nie, in die middelste vertrek op die boonste verdieping in ’n hoekie sien sit. Sy het gesê Irene was baie hartseer.
“Irene het dié vertrek as haar aanbiddingskamer ingerig, maar Madame X het dit nie geweet nie. Volgens haar het sy en Irene deur die huis gestap en is Irene toe ‘weg’.
“Maar die nag van 12 Januarie, presies drie maande ná haar dood, het die teenwoordigheid volgens die huurders weer verskyn, maar dié keer tasbaar.
“Die vrou is in haar bed vasgedruk en iemand het net een woord gesê: ‘Ja’, het sy aan my gesê. Sy was letterlik verlam van skok.”
Volgens Van Wyk het die huurders nou besluit om te trek.
“Ek het geen rede om hulle nie te glo nie. Hoekom sou hulle lieg? Ek weet eerlikwaar nie watter kant toe nou nie. Party mense sê dis bog, ander sê dit kan gebeur. Al wat ons as gesin weet, is dat ons glo Irene is by haar God.”
Die huurders wou nie gister praat nie.
- Die Burger