Iran ontstoke oor Oscar vir Argo
2013-02-26 13:05
Theran – Staatsmedia in Iran het Maandag gesê die toekenning van die Oscar vir die beste fliek aan die politieke riller Argo, is polities gemotiveerd.
Die Mehr- en Fars-nuusagentskappe het gesê dat dit duidelik is dat die prys polities gemotiveerd is, veral omdat die Amerikaanse presidentsvrou, Michelle Obama, die wenner vanuit die Withuis aangekondig het.
Die agentskappe het gesê dis vreemd dat 'n Oscar-toekenning nog nie op soortgelyke wyse toegeken is nie, en dat dit juis gebeur wanneer 'n rolprent oor Iran benoem is.
“Die rolprent het nie op tegniese of kunstige vlak al sy pryse verdien nie en die redes vir dié toekennings kan toegeskryf word aan die standpunt teen Iran,” het Mohammad Hosseini, minister van kultuur, aan dpa gesê.
Argo is gegrond op gebeure in November 1979, toe die CIA ses Amerikaners tydens ’n opstand uit Iran gered het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA