Inspirerende dans huldig ballerina Phyllis Spira
2010-08-04 09:43
Die Burger
Die professionele nalatenskap van die Prima Ballerina Assoluta Phyllis Spira sal voortleef solank Suid-Afrika dansers oplei. Haar
uitvoerings was van die beste, so ook haar opleiding van dansers daarna.
Sy was 15 toe sy alleen liggaam en siel byeen moes hou in ’n Londense bedsitter nadat sy by die Royal Ballet School aanvaar is. Haar tegniek, musikaliteit, “verkleurmannetjie”-eienskap en die kroontjie-tot-toontjie uitlewing van haar kunstenaarskap is bekend. Sy was immers ’n ballerina in die wêreldklas.
Minder wêreldkundig is hoe sy ná haar verhoog-aftrede tot met haar ontydige dood in 2008 haar kuns met kinders uit agtergeblewe gemeenskappe in en om Kaapstad gedeel het, geskool op ’n inisiatief van die dans-doyen David Poole. Sondag het ’n volgepakte operahuis in Two Decades, ONE InSPIRAtion 1991-2110 ’n glimp hiervan beleef.
As stigterslid van Dance For All (DFA) saam met haar lewensmaat en voormalige Kruik-danser, Philip Boyd, kon Spira uiteindelik die vreugde beleef van DFA se eie mooi, funksionele ateljee in Athlone nadat hulle in 1991 met 34 studente by die Sivuyile College in Gugulethu sonder spieëls en barres (as ek reg onthou) begin het. Baie kinders wat deur haar hande gegaan het, dans nou professioneel en ander gee klas. Die afronding waarmee die huidige DFA-studente die verhoog betree, getuig van die res.
’n Visuele beeldvoorstelling Sondagaand het enkele uittreksels uit Spira se loopbaan uitgelig. Hierin was etlike passasies saam met haar gevierde dansmaat danseur noble Eduard Greyling. Dat hy nie, hoe vlietend ook al, hulle lang en legendariese dansvennootskap in woorde herroep het nie, was jammer.
In die intree-item sowel as die grande finale was hy wel op die verhoog saam met enkele afgetrede dansers uit Spira se tyd, soos Ann Lloyd, Nicolette Loxton, Juanita Yazbek en Carol Kinsey.
Drie prominente Vriende van DFA, emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, en Soli Philander, het op sigself ’n vermaaklike kamee gelewer.
Buiten die Spira-fokus was die aand ook ’n viering van DFA se 21ste jaar. Die program is deur Boyd en die bekende danser en choreograaf Christopher Kindo byeengebring. Dit het gevarieerde werke van DFA self en voorste Kaapse dansinstansies ingesluit. Hoogtepunte was Chopin Changelings, gechoreografeer deur Adéle Blank en uitgevoer deur die Free Flight-dansgeselskap. Musikaal, afgerond, slim (met kieries!) en kykbaar in besonderhede. Xola Putye, een van Spira se eerste studente, het saam met Megan Swart ’n pas de deux uit Don Quixote gedans.
Albei dansers is altyd ’n plesier, maar Swart sou uitgelese balletkykers waarskynlik dalk herinner aan die huidige standaard van die Kaapstadse Stadsballet. Spira se era is verby, wat klassiek betref, en ’n nuwe era het nog nie aangebreek nie.
Die gedetailleerd en bykans briljante afronding van, byvoorbeeld, die La Rosa- Spaanse dansers was afwesig by voorgenoemde. Die kreatiewe en emosionele chemie met die drie Flamenco-musici op die verhoog, Bienyameen, Robert Jeffery en Lorean Swartz, was vir my die artistieke hoogtepunt van die aand.
Shift van Grant van Ster en Shaun Oelf (Jazzart-dansteater), gechoreografeer deur Sbonakaliso Ndaba, was kontemporêr op sy beste: ’n visuele fees vanuit ’n wydlopige emosionele register.
Hulle bevestig dat goeie choreografie en tegniek wel uitdrukking kan gee aan die onuitspreekbare, soos ook die musiek waarop die werk geskryf is, “Tales of the Inexpressible’’ van Shpongle, beklemtoon.
- Die Burger