Inniebos-fees steek veer in Ollie se hoed
2011-07-04 07:56
Nelspruit - Die trekklaviermeester Ollie Viljoen is die naweek by Innibos-fees hier vir sy lewenslange bydrae tot die kunste vereer.
Arend Eloff, beeldhouer en oud-Laevelder, het ’n spesiale bronsbeeld gemaak wat Saterdag tydens die Jacaranda 94.2-konsert op die Standard Bank-verhoog aan Viljoen oorhandig is.
Hy het nie ’n kenmerkende voetejeuk-nommertjie gelewer nie omdat hy sy linkerskouer, waarmee hy die trekklavier trek, seergemaak het. “Die seer skouer gee my darem die verskoning om so ’n bietjie swakker as gewoonlik te speel,” het Viljoen tydens ’n vorige optrede by Innibos-fees geskerts.
Sy vermaaklikheidspore loop so ver terug as die bosoorlog waar Viljoen vir die konserte van weermaglede verantwoordelik was.
Hy was regisseur by die SAUK, programorganiseerder van onder meer die KKNK- en Aardklop-feeste en was aan die stuur van talle TV-programme, waaronder Platepraatjies, Boereorkes-kompetisies en Spies en Plessié.
Hy het ’n platform vir televisie-legendes soos Koos Meyer, Jan Spies, PG du Plessis en Tolla van der Merwe geskep en só tot die Afrikaanse kultuurskat bygedra.
Volgens Viljoen hoef die eg Suid-Afrikaanse musiekstyl vir geen ander volksmusiek terug te staan nie en is hy baie trots op die toekenning wat hy ontvang het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger