Inbrekers 'stroop' sangeres se gastehuis
2010-01-27 07:48
Sanri van Wyk
Johannesburg - Inbrekers het die sangeres Elzabé Zietsman se gastehuis in Auckland Park, Johannesburg, gister van al die drank- en vleisvoorraad gestroop.
Zietsman se statusboodskap op Facebook was gister: “Iewers in Johannesburg maak daar vandag ’n nuwe shebeen oop met ’n klein slaghuisie langsaan.
“Die produkte kom alles uit my huis uit!! Bl****ms het drie deure probeer oopbreek en toe maar een van Die GlasKas (die gastehuis se eetkamer wat feitlik heeltemal van veiligheidsglas gemaak is) se vensters uitgeslaan en my kroeg en vrieskas leeggemaak!!
“Derduisende rande se drank weggedra in my kussingslope en die vleis in my Nguni-velle toegedraai. Dust to dust en meat to meat!!”
Zietsman, wat in ’n kothuis buite die gastehuis bly, het aan Beeld gesê sy het niks gehoor nie.
Sy vermoed die inbraak was in die vroeë oggendure.
“Gisteroggend, toe ek die gastehuis oopsluit, toe sien ek bloed op die vloer.”
Die inbreker wat die glas uitgeslaan het, is vermoedelik in die proses beseer.
Zietsman het gesê die glas is gebreek met ’n klip uit die tuin.
Die inbrekers het twee Karoo-lammers en ’n halwe bees en feitlik al die drank in die kroeg buitgemaak.
Onder die drank wat gesteel is, is ’n bottel Johnnie Walker Blue Label en sowat 70 bottels likeur.
“Ek het die leë Johnnie Walker-bottel op die vloer van die kroeg gekry. Dit was ’n vol bottel wat hulle net daar leeg gedrink het. Ten minste het hulle goeie smaak.”
Die sangeres raam die skade op tussen R30 000 en R40 000.
Omdat die inbrekers presies geweet het waar om die kussingslope uit die linnekas te haal, vermoed Zietsman een van hulle ken die uitleg van die huis goed.
Sy het van haar gastehuis se handdoeke met bloed op in die veld langs die huis gekry.
Geen gaste was tydens die inbraak in die gastehuis nie.
Ook ’n werker wat in die kelder onder die kombuis bly het niks gehoor nie en is ongedeerd.
Insp. Lorraine van Emmerik, ’n polisiewoordvoerder, het gesê die Brixton-polisiekantoor ondersoek ’n saak van huisbraak en diefstal.
- Beeld