Iglesias en model trou ná 20 jaar saam
2010-08-27 07:38
Madrid. – Die Spaanse sanger Julio Iglesias (66) en Miranda Rijnsburger (45) is getroud.
Die twee is al 20 jaar lank saam en sy is die ma van vyf van sy agt kinders.
Volgens Iglesias is hulle Dinsdag in ’n Katolieke seremonie in Marbella aan die Spaanse Costa del Sol getroud. Hul kinders en twee getuies was die enigste gaste.
Iglesias en Rijnsburger, ’n voormalige Nederlandse model, woon vir die grootste deel van die jaar in Miami.
Hy was voorheen getroud met die Filippyns-gebore Isabel Preysler, wat Enrique se ma is.
- Sapa-DPA