Idols-wenner mik oorsee
2009-09-23 13:37
Kaapstad – Sasha Lee Davids en Jason Hartman se CD enkelsnitte verkoop goed, sê Robbie Ferns van Musica.
“Ons gee stel nie gewoonlik verkoopsyfers vir individuele kunstenaars bekend nie, maar dié twee se verkope is gelyk aan die van vorige Idols wenners,” het Ferns aan News24 gesê.
“En Sasha Lee verkoop as’t ware omtrent 100 meer as Hartman.”
Idols was vroeër die jaar in omstredenheid gedompel toe beide Davids en Hartman as die wenners aangekondig is.
Tellings het deurmekaar geraak toe daar probleme met die sms-stemme ondervind is.
Sasha Lee is eers as wenner aangekondig, maar na die stemme ‘n tweede keer getel is, het Hartman haar oortref.
Hartman is daarna, tydens ‘n tweede seremonie, as medewenner aangekondig en hy en Sasha Lee deel nou die Idols-titel.
Volgens Ferns, verdien Idols-wenners gewoonlik meer geld met vertonings as met CD verkope.
Heinz Winckler kraai egter nog koning, met geen van sy opvolgers wat naby hom kom in CD verkope nie.
“Maar 'n mens kan steeds nie dié outjies met plaaslike kunstenaars soos Steve Hofmeyer vergelyk nie,” sê Ferns.
“Afrikaanse musiek doen goed.”
“Danskompilasies en CD’s deur platejoggies soos DJ Fresh verkoop net so goed,” voeg hy by.
Jason Hartman sien geen bedreiging in Sasha Lee se CD verkope nie.
“Verkope is nie belangrik nie.”
“Dis nie ‘n kompetisie nie,” het hy aan News24 gesê.
“Die kompetisie was tydens Idols gewees, en dis nou verby.
“Ek het sopas my nuwe CD On the Run voltooi en dit behoort die 19de Oktober beskikbaar te wees.”
Hy het bygevoeg dat hy besig is met ‘n strawwe toer en na sal na sy CD vrygestel is, die moontlikheid van ‘n oorsese toer oorweeg.
“Ons is lekker besig," het hy geskerts.
“Blykbaar is ons die enigstes van die Idols wat genooi word vir vertonings.”
“Ek hou van toer, maar gaan eers kyk hoe doen die nuwe CD en dan hopelik ‘n oorsese toer aanpak.”
Sasha Lee Davids is ook tans besig met ‘n nuwe CD wat einde Desember gereed sal wees.
- News24