Idols-skoonheid sê sy kán sing
2010-09-06 09:08
Johannesburg - Adeline Mocke, ’n boerenooi van Upington, laat die tonge klap ná gerugte dat sy in die jongste Idols-kompetisie na die volgende ronde deurgedring het omdat sy mooi is.
Dié blondine voel egter sy het hard gewerk om te kom waar sy is. “Ek is dalk nie die mees ervare deelnemer nie, maar het stemlesse geneem en in ’n plaaslike restaurant in die Strand in Kaapstad gesing om my voor te berei.”
Mocke het gesê hoewel sy in gisteraand se vertoning, wat reeds Vrydag opgeneem is, baie negatiewe kommentaar gekry het, beteken dit nie die einde nie. “Dit beteken net dat die vier beoordelaars al vier verskillende smake het.”
Sy het Prince se Purple Rain gesing in Idols se Top Rock-tema.
Dié rabbedoe, soos sy na haarself verwys, het vakansietye in haar ouers se gastehuis op Upington gewerk. Dis hier waar sy “bietjies-bietjies” Engels by toeriste geleer het wat daar aangedoen het.
Sy het ook vroeg reeds besef dat haar modelwerk haar die wêreld kan laat sien. Mocke sê sy glo in haarself en haar vermoë om iets te doen as sy besluit het om dit te doen.
Sy sê in Idols, soos in haar modelwerk, raak sy al hoe meer vasberade om harder te probeer hoe meer negatiewe kommentaar sy kry.
“Ek wil hulle verkeerd bewys as hulle dink ek is hier oor my looks.”
Ingrid Engelbrecht, M-Net se publisiteitsbestuurder van plaaslike produksies, het gesê die tien topdeelnemers is op die oomblik ewe goed en dit is moeilik om te sê wie nog uitgestem gaan word.
“Al die beoordelaars het gevoel Adeline is toptien-gehalte, dis hoekom sy deur is. Gareth Cliff se uitlating was slegs ’n eerste reaksie.” Cliff het op haar oudisie gesê Adeline is deur na die volgende ronde nog voordat sy begin sing het.
- Volksblad